‘N FAMILIEWAPEN VIR DIE VERWOERDS
deur Prof. W.J. Verwoerd,
Universiteit van Stellenbosch
STELLENBOSCH
Die volgende artikel is aangebied vir publikasie in die tydskrif “Arma” van die S.A. Genootskap vir Heraldiek:
Die eerste stamvader van die Verwoerds in Suid-Afrika was my grootvader, Wilhelm Johannes Verwoerd (1874-1961) wat op 18 November 1903 in Kaapstad voet aan wal gesit het. Sy afstamming in Suid-Holland is deur dr. C. Pama tot 1655 teruggevoer(1). Daar bestaan geen getuienis dat enige lid van hierdie familie (wat uit kleinboere, arbeiders en bouers bestaan het) ooit ‘n familiewapen gevoer het nie.
Vanweë my belangstelling in die heraldiek het ek in 1991 besluit om ‘n familiewapen te ontwerp. Hiermee betuig ek graag my opregte dank aan dr. Pama en mnr. F.G. Brownell, staatsheraldikus, vir hul belangstelling en advies. Die wapen is op 21 Februarie 1994 kragtens die Heraldiekwet geregistreer en word hiernaas geïllustreer. Die heraldiese beskrywing lees as volg:
Wapen: in goud, vyf rooi ruite geplaas 3 en 2; op ‘n blou swaelstertvormige skildhoof, ‘n silwer toring tussen twee goue ruite.
Helmteken: ‘n Proteatak met drie blomknoppe en blare, alles van natuurlike kleur, voor die stingels ‘n goue ruit.
Wrong en dekklede: blou en goud.
Wapenspreuk: Skep U Toekoms Self.
Die familiewapen bevat heelwat simboliek wat nie so ooglopend is nie. Terwille van die nageslag en ander belangstellendes wil ek dit graag hier te boek stel.
Ek wou naamlik probeer om die volgende aspekte van die familiegeskiedenis weer te gee:
1) Nederlandse herkoms maar Afrikaanse karakter.
2) Betekenis van die Verwoerd-van,
3) Genealogie.
4) Die rol van my vader, dr. H.F. Verwoerd, as belangrike persoon.
Op die ou end moes die tweede aspek maar agterweë bly. Die van is afgelei van Nederlands “woerd” vir ‘n stuk grond op ‘n rivieroewer(2). Die Verwoerd-voorgeslag stam uit die streek Bodegraven en Woerden aan die benede-Ryn – die naam van die stad en die familienaam het klaarblyklik ‘n gemeenskaplike oorsprong. Dit was egter nie moontlik om ook nog die rivier en sy terrasse (die “hoge en lage woerd”) op die wapen aan te dui nie.
Die ruite is ontleen aan die wapen van Herman, Heer van Woerden, uit 1277 (“in goud drie rode ruiten”). Die oorspronklike betekenis van die ruit (indien enige) is onbekend. Dit kom ook voor in die stadswapen van Woerden, waarvan die oudste gekleurde afbeelding dateer uit 1596, en is redelik algemeen in wapens van hierdie streek. Die slot van Woerden is in die jaar 1160 gestig deur Godfried van Reenen, biskop van Utrecht, as ‘n grensvesting teen die graafskap Holland(3). Dr. Pama het my op hierdie spoor gebring want hy het dit reeds in 1971 gebruik vir die stadswapen van Verwoerdburg (Centurion, Pretoria).
In ‘n interessante persoonlike mededeling sê dr. Pama dat die ruite van Verwoerdburg eintlik ontleen is aan die wapen van die Hollandse (min of meer adellike) Van der Woerd-familie. Volgens hom bestaan daar ‘n vermoede, wat nie met dokumente gestaaf kan word nie, dat die Verwoerds dalk aan hierdie geslag verwant is. “In die Middeleeue het adellike families dikwels buite-egtelike kinders gehad en soms was dit ook maar jongere wettelike seuns wat gewone boere geword het. Die voornaam was in die Middeleeue ‘n belangrike saak in ‘n familie en vanweë die betreklik ongebruiklike voornaam, Philip, wat sowel by die Van der Woerds as die Verwoerds voorgekom het, is daar ‘n verband gesoek.”
Hier volg dan nou die verdere simboliek van die Verwoerd-familiewapen: Die swaelstertvormige basis van die skildhoof simboliseer die wyse waarop die familie se Nederlandse herkoms en Suid-Afrikaanse toekoms aan mekaar gevoeg is. Die ruite van bo na onder stel die manlike lyne van die eerste drie geslagte Verwoerds in Suid-Afrika voor: die stamvader, twee seuns (in gemeenskaplike kleur omdat aldrie in Holland gebore is) gevolg deur vyf kleinseuns in rooi op ‘n goue agtergrond (in Suid-Afrika gebore). Die toring is van graniet (‘n voorstel van mnr. Brownell). Dit herinner aan verskeie dinge, naamlik aan die slot van Woerden, aan die stadswapen van Stellenbosch waarmee die Verwoerd-familie in die 20ste eeu ‘n noue verbintenis gehad het, aan bouwerk in letterlike en figuurlike sin en aan dr. H.F. Verwoerd wat dikwels beskryf is as “man van graniet”. Hy word ook herdenk in die wapenspreuk wat hy op 16 September 1959 uitgespreek het en in die edelsteen om die nek van die steekhelm as ‘n dekorasie vir voortreflikheid. Die saffier (variëteit ster-saffier) is die sogenaamde geboortesteen vir September en dit is van toepassing op hom sowel as die skrywer. Die vooraansig van die helm versinnebeeld moed en regskapenheid. Die helmteken (protea) is ‘n nasionale embleem van Suid-Afrika.
Indien iemand spesifieke betekenis aan die kleure wil heg (in die heraldiek is dit egter nie die geval nie) sou dit as volg kon wees: Groen, rooi, wit (silwer) en blou: die Transvaalse vierkleur en die Nederlandse driekleur. Goud: Suid-Afrika se son en rykdom. Blou: die blou van ons hemel en die diepte van ons see; oftewel adel van die gees. Rooi: viriliteit. Silwer: reinheid. Groen: vrugbaarheid.
Aantekeninge
- Pama, C. “Die afstamming van dr.Hendrik Verwoerd.” Familia IV, 80-88 (1967); “Nogmaals die afstamming van dr. Hendrik F. Verwoerd.” Familia V, 38 (1968).
- De Vries, J. en de Tollenaere, F. Etymologisch Woordenboek (1983). woerd 2: kunstmatig opgeworpen hoogte ter bescherming tegen watervloeden (vooral in het gebied der grote rivieren), mnl. woert: stuk land waarop een hof met bijgebouwen staat.
- Van Doorn, Z. en Nico Plomp. “De zegels en het wapen van “Woerden” Zuid-Hollandse studien XII, 261-270. ‘sGravenhage. Hierdie artikel is onder my aandag gebring deur die heer L.C.H. Peters van die Streekarchivariaat Rijnstreek, in Woerden.