deur Marlé Stoman
Vir ouma Betsie, en seker ook oupa Hendrik, het items gemaak van inheemse Suid-Afrikaanse hout, ‘n baie spesiale bekoring ingehou. Dit was vir hulle van patriotiese betekenis, net soos die Afrikaanse taal, kulturele funksies en feeste en die natuurskoon van elke besondere streek in Suid-Afrika.
Ek onthou, as kind, hoe ouma Betsie baie graag die verskillende plante wat op ‘n spesifieke plek groei, aan ons uitgewys het met sy algemene of botaniese naam en of dit inheems is of andersins waar dit vandaan kom – by ons in die Laeveld, in Pretoria, in die Karoo, op Stokkiesdraai of op Bettiesbaai. Indringerplante was veral vir haar ‘n doring in die vlees – veral op Bettiesbaai waar dit die duine se karakter verander en groot gevaar inhou vir die inheemse plante, veral die Kaapse heide. Ons is menigmaal opgekommandeer om Rooikrans en dies meer te help uittrek, maar dit het maar altyd vir my gevoel of dit ‘n verlore saak was (tog het ek dit nie durf uitspreek nie).
In die museum op Orania, wat ouma Betsie se woonhuis was in haar laaste jare, staan dan ook die vertoonkas met artikels gemaak uit inheemse houtsoorte van Suid-Afrika. Dit was een van die enkele kosbaarhede wat ouma uit die grote Stokkiesdraai saamgeneem het toe sy na die piepklein woonstelletjie in Huis Herfsblaar, Pretoria en daarna die huisie op Orania, getrek het. Die wroeging wat sy ondervind het om te besluit watter meubelstukke sy sou kon inpas, het op my as jong meisie ‘n diep indruk gelaat en ek het haar so jammer gekry. Hierdie kas het in die sitkamer aangrensend aan ouma se slaapkamer op Stokkiesdraai gestaan en sy het vir baie jare elke dag minstens twee maal daar verby geloop. Ek is baie dankbaar dat ek darem ook iets gekry het wat my ouma verpersoonlik, nl. haar houtinlegwerk-skinkbord, gemaak van drie soorte (kleure) inheemse hout; as ek reg onthou, geelhout, stinkhout en rooi essenhout.
Dat sy graag wou afskaal en na ‘n kleiner plekkie gaan, is nie te betwyfel nie, maar die besluite oor waarheen elk van haar oubekende huismeubels, ornamente en selfs gebruiksartikels sou gaan, het swaar op haar hart gedruk. Sy wou darem seker maak dat elkeen iets kry en dat dit ook darem regverdig verdeel word. Ons gesin het vandat ek kan onthou, elke jaar by ouma op Stokkiesdraai gekuier en later het ons vir 3 jaar in die polisiehuis by die hek gewoon en gereeld in die “groot huis” gekom. Ek onthou dus al die meubels baie goed. Dit was vir my ook hartseer om afskeid te neem daarvan.
Ander items wat vir ouma Betsie baie spesiaal was, onder andere, is haar versameling silwer tafelgoed – baie daarvan was geskenke van ondersteuners. Ook dit het hulle plekkie gevind in ‘n vertoonkas in haar Orania-huis se sitkamertjie, saam met die porselein teestelle, waaruit ek ook die voorreg gehad het om deur ouma onthaal te word. Gereeld het ons vir ouma gehelp om haar silwergoed te poleer tot dit blink soos ‘n spieël – so ‘n lekkervoel-aktiwiteit.
Die Griekse borde en kruik is deur die Griekse gemeenskappe van Johannesburg en Pretoria aan ouma en oupa geskenk in 1964. Sy het dit met haar vertrek uit Stokkiesdraai aan tannie Annatjie Boshoff, haar voormalige privaatsekretaresse en vriendin, gegee, wat dit toe later aan die museum geskenk het.