Verwoerd-gedenkversameling (museum) op Orania – no. 4

deur Marlé Stoman

In Desember 2017 het die Stoman-gesin weer ‘n slag die Verwoerd-gedenkversameling besoek en dit was ook weer ‘n aandoenlike ervaring. Die kinders was ouer met ‘n bietjie meer agtergrondkennis en dit het gemaak dat hulle met heelwat meer belangstelling as voorheen, na al die items gekyk het.

Die klere wat oupa Hendrik aangehad het toe hy vermoor is en die merkers daarop waar die mes hom telkens getref het, was interessant, so ook die parlementsbank waarin hy volgens gewoonte gesit het en die tas waarin sy dokumente was. Daar is ook ‘n plakboek met koerantuitknipsels van artikels uit die tyd.
Plakboek

Nog ‘n uitstalling wat ons aandag getrek het, is een van die rok wat ouma Betsie aangehad het in Londen met die koninklike dinee tydens die Statebondskonferensie en rokkies wat ouma en die dogters aangehad het tydens ‘n noemenswaardige geleentheid (sal weer moet uitvind waarvoor).

Daar hang ook in haar slaapkamer teen die hangkas ‘n hele paar rokkies wat ouma gereeld gedra het in latere jare. Ek kan my verbeel dat ek sommer nou-nou saam met haar poskantoor toe gaan of in die tuin rondloop en na die blomme kyk.

Die foto waar ouma Betsie vir Hendrik (van oom Wilhelm) sy Presidentsverkenner-kenteken aansteek, onthou ek baie goed, maar kan nie meer onthou waar dit gehang het nie. Ek was altyd bewus van die groot prestasie wat hierdie toekenning behels het en sou graag self dit wou verwerf. Teen die tyd wat ek oud genoeg was, was Die Voortrekkers nie meer dieselfde nie.

Maak 'n opvolg-bydrae