Rose in Desember
deur Anje Strik Boshoff
‘”God gave us memories, so that we may have roses in December,” wrote James Barrie.’
Ek vind hierdie aanhaling aan die begin van die inleiding van ‘n boek oor rose op die koffietafel in Ouma se woonstel waar ek onthou dit dikwels gelê het toe sy nog daar gewoon het: The story of the Rose, James McIntyre. Dit is natuurlik gemik op ‘n Engelse Desember wat gewoonlik nie rose het nie, maar hier in die suidelike halfrond – en Orania spesifiek – is die rose in Desember werklik op hul mooiste.
Ouma Betsie was besonder lief vir blomme, maar vir twee spesifieke soorte: proteas en rose. Ek wy hierdie artikel op ‘n meer persoonlike noot aan Ouma en haar rose en die manier waarop ons dit ook in die Verwoerd Gedenkversameling se tuin probeer behou.
Van my vroegste herinneringe is die laning rose op Stokkiesdraai op pad rivier toe waar Ouma met ‘n snoeiskêr en buisie tandepasta die rose versorg. Sy het geglo ‘n mens smeer tandepasta aan elke takkie wat gesnoei is, om goggas daar uit te hou. Sy het dikwels rose gepluk en in die huis gehou – langer as wat die meeste mense blomme kon vars hou. Wie van julle kan Ouma se rooshospitaal onthou? Sy kon dit nie oor haar hart kry om die rose uit te gooi as hulle koppe begin hang nie, en het dan die koppe afgesny en in ‘n vlak waterbak laat dryf om vir nog ‘n week lank die plesier van hul glorie te geniet. Nadat sy hulle uiteindelik uit die hospitaal moes haal, is die blare afgepluk om gedroog te word vir potpourie.
Die Verwoerd Gedenkversameling se tuin is tans onder die bekwame groen vingers van Jaco Kleynhans, besturende hoof van die Orania Beweging en stokperdjie-tuinier, wat met groot entoesiasme gedurig nuwe plante insit en sorg dat daar altyd iets is wat blom. Jaco onderhou ook die twee roosbeddings wat destyds deur Renus Steyn geplant is toe Ouma in Orania kom woon het. Heelwat stokke moet van tyd tot tyd vervang word. Heelwat foto’s uit die tyd van haar verblyf herinner ons hoe dit gelyk het en daar word moeite gedoen om dit weer so te kry. Vier nuwe stokke word hierdie week geplant deur die verskeie toergidse wat ook by die Gedenkversameling betrokke is, tydens ons jaarafsluiting by die museum.
Daar is baie dinge waaraan ons Ouma kan onthou en waarin ons herinneringe aan haar herleef, soos ons dit ook in die Gedenkversameling bewaar. Die rose en die tuin bring egter iets van ‘n lewende herinnering in die blomme wat elke jaar weer blom en die plante wat lewe en lewe gee. Uit dieselfde bron hierbo genoem, kom ook die volgende gediggie:
Rose leaves, when the rose is dead,
Are heaped for my beloved’s bed;
And so thy thoughts, when thou art gone,
Love itself shall slumber on.
~ Shelley